In April 2021 begin Douglas 224 die beplanning om ‘n “Herfs Dans” te hou. Die datum word gekies as 22 Mei. Die ‘band’, Jan Rhaap, word geboek, store gereël posters gedruk en die besprekings maak oop. Daar is beperkte kaartjies beskikbaar aangesien lockdown reels geld, en al is die dorp uitgehonger vir ‘n massiewe partytjie moet gesondheid top prioriteit vat. Die kaartjies verkoop goed en besprekings stroom in. Die projek beloof om ‘n groot sukses te wees.
Hierdie geesdrif sou ongelukkig nie lank hou nie. ‘n Week voor die beplande datum tref die 4de vlaag Covid-19 vir Douglas hard met ‘n 70 nuwe positiewe toetse in een dag. Die verwagting is ook dat die president nuwe lockdown maatreëls sou aankondig en ons neem toe die moeilike besluit om die dans tot verdere kennis uit te stel. Soos verwag tree die nuwe lockdown reëls in werking ‘n paar dae voor die dans.
4 Maande later, in September en Oktober 2021 word Douglas en die nabye gemeenskap hard getref deur veldbrande. Vure word geveg reg rondom die dorp, al die pad vanaf Prieska en Hopetown, deur Douglas en tot in Kimberley. Die skade beloop duisende hektare en baie boere van die Douglas gemeenskap loop self deur. Daar is groot nood in die gemeenskap.
Die 4de Covid vlaag is ook terselfdetyd besig om te bedaar en Douglas 224 besluit om weer die herfs dans op die been te bring, maar hierdie keer ten gunste van Douglas se Jongboere Vereeniging om sodoende verligting te bring vir die wat skade gelei het onder die brande.
Die idee kry groot inkoop vanaf die gemeenskap en ons word oorweldig met skenkings vir die veiling op die aand. Alles van bul-kallers, jagpakette, toerusting, en ‘n vuurvegter word geskenk vir die saak. Teen die tyd wat die aand aanbreek word daar ook amper 400 mense verwag. Douglas het bitter lanklaas so saamtrek gesien by ‘n dans en Jan Rhaap get gesorg dat die geesdrif hoog loop. Die veiling was ook ‘n reuse sukses met baie gewilligers wat die goeie doel raaksien.
Dit was heel moontlik Douglas 224 se mees suksesvolle projekte ooit en ons bedank graag al ons vrouens, tafelaars, stoele en borge wat die aand moontlik gemaak het. ‘n spesiale dank gaan ook uit aan elkeen van die gemeenskap wat die geleentheid bygewoon het. Dis ‘n eer om te tafel in ‘n dorp soos ons s’n.