Die Ghaap riverXtreme is n groot dag op die Douglas kalender en Douglas 224 se grootste jaarlikse fondsinsameling projek. Die doel van die fees is om fondse in te samel vir gerigistreerde nie-winsgewende organisasies in Douglas. Die huidige begunstigdes is Douglas vir Diere, Huis Spes Bona, Hoërskool Douglas, Outreach asook Douglas 224 wat op hul beurt weer die fondse verdeel aan behoeftiges in die gemeenskap. Talle feesgangers sak oor die loop van die naweek toe op die feesterrein en meeste van hulle reguit na die biertuin toe waar dit die tafelaars se verantwoordelikheid is om hulle te beskerm teen hitte-uitputting en dihidrasie.

Die fees is die laaste 7 jaar gehou by Broadwater River Estate maar nadat die fees die terrein ontgroei het is daar besluit om die fees te skuif na n ander terrein asook na vroeër in die jaar in Februarie. Aangesien daar nie twee feeste in een jaar gehou kan word nie en met die borgskap van die Lotto kan daar nie n jaar oorgeslaan word nie, is die besluit gemaak om hierdie jaar n kleiner weergawe van die fees aan te bied op die skoolgronde in die vorm van n “mark-naweek”.

Al was die fees nie so groot soos vorige jare nie het die tafelaars nogsteeds oorgenoeg entoesiasme aan die dag gelê en hulself beywer om dit n groot sukses te maak. Daar was weereens groot kameraadskap agter die kroeg toonbank wat dan ook Saterdag omskep is in n onbeplande “sports-pub” sodat feesgangers kon toekyk hoe die Japanese rugbyspan onverwags vir Ierland ore aansit asook hoe die Springbokke afreken met Namibië. Later die aand vermaak Thys die Bosveldklong die skare waarna die partytjie woed tot laat in die nag.

Baie dankie aan die feeskomitee vir julle harde werk, die bywoners vir julle ondersteuning en ook vir die tafelaars vir julle onbaatsugtige bydraes tot die gemeenskap. Ons sien uit om almal vroeg volgende jaar weer te sien by ons nuwe tuiste.

224 groete.