Mispa Kinderhuis Kuier – 24 Mei 2014
Saterdag 24 Mei 2014 het Augrabies 273 die voorreg gehad om ‘n bietjie saam met die mense / kinders van Mispa Kinderhuis op Keimoes te gaan kuier.
Dit was ‘n heerlike koel dag en ons het sommer met die intrap slag die vure aangesteek en lekker hoog laat brand. Toe was dit tyd om al die opgewonde kinders te ontmoet. Daar is 11 kinders in Mispa Kinderhuis waarvan 9 jonger as 10 jaar oud is. Die eiendom behoort aan Hesther en haar man self. Hy is ‘n motorwerktuigkundige en sy hanteer die Kinderhuis. Hulle het geen ander bron van inkomste as sy werk en dit wat vrywilligers aan hulle gee nie. Die huis is netjies en die kinders het gerieflike, mooi kamers asook badkamers. Augrabies 273 en Oranje Rivier Tenkers het laas jaar vir hulle gehelp met die aanbou van ‘n Wendyhuis gedeelte (wat aansluit by die huis) wat bestaan uit 4 slaapkamers en 2 badkamers.
Ons het so gesels gesels saam met die kinders en hul “ma” deur die huis gestap en al die stories en dinge geluister soos wat die opgewonde kinders dit vertel. Buite het ons na die groot seuns se buitelug gym onder die bome gekyk en toe verby die waskamer gedeelte terug na die vure gestap.
Dit is baie duidelik dat die kinders goed versorg is, baie liefde kry en soos dood normale kinders kan speel (ongeag die haglike omstandighede waaruit hulle kom). Al het hulle min, het hulle baie.
De Wet, AD en Paul het die wors gebraai en toe het Lanie, Babrie, Jandri en Lizmari vinnig reggestaan met die buns en sous vir die hotdogs want die kinders was honger!!! Klein Neelsie (opgetel as babatjie in ‘n plastieksak in Keimoes se straat – nooit opgeeis deur iemand nie – geen naam of van – toe noem hulle hom sommer Neelsie … soos in Orkney Snork Nie) het sy hotdog van alle kante bekyk en mooi beplan hoe hy hierdie saak gaan benader. Op die ou einde was dit: eers die sous aflek, toe die worsie eet en toe die bun inwurm.
Nadat almal mooi hulle kos opgeeet het was daar heerlike roomyse vir poeding. En daar was oorgenoeg dat elkeen nog ‘n tweede rondte ook kon kry.
Ons het heerlik saam met Hesther’le gesit en eet, gesels en na al hulle stories geluister (stories oor goed wat regtig jou hare sal laat rys, maar ook mooi, sukses stories). En toe was dit tyd om al die vriendelike kindertjies te groet. Ons het sommer al die oorskiet kos net daar gelos … vir aandete natuurlik.
Na afloop van die dag se kuier by Mispa Kinderhuis was ons van vooraf weer opreg dankbaar vir al ons seeninge – warm bed, kos, klere, dak oor ons kop, liefde. Ons het net weereens besef waaroor Tafelronde vir ons gaan – die GEE vir die wat nie het nie. Mispa Kinderhuis gaan goed aan, maar daar is nog baie ruimte vir Augrabies 273 om ‘n waardevolle bydrae te lewer in die toekoms. En dit is presies wat ons beplan om te doen.
Y i T