Op die oggend van 19 September 2015 het die opgewondenheid hoog geloop in die Upington geledere. Dit was die dag wat die Upington lughawe se aanloopbaan toegemaak sou word vir 3 ure ten einde die lede van die Southern Equitorial Ferrari Automobili klub in staat te stel om te sien wie die hoogste snelhede met hulle Ferrari’s kon behaal oor ‘n afstand van by die 4km.
Die eienaars van hierdie altesaam 18 spogmotors het eers alleen mekaar die stryd aangese en toe het betalende lede van die publiek die kans gekry om saam met die eienaar vir ‘n sprint te gaan en die mense kon nie uitgepraat raak nie!! Almal was dit eens dat daar ten minste een keer per jaar so ‘n gebeurtenis moet wees.
Na afloop van die dag het die klublede voortegegaan met hul toer na Kaapstad. n Week of drie nadat die dag gehou is, het ons ewe skielik donasies begin ontvang van die klub sowel as van lede van die klub in hul persoonlike hoedanigheid. Dit het veroorsaak dat hierdie projek die mees winsgewende was wat nog ooit deur Upington Tafelronde 79 organiseer is en het dit ons in staat gestel om ‘n reuse donasie te maak aan die ACVV huis vir Bejaardes sowel as die ACVV Dienssentrum op Upington.
Weereens baie dankie aan alle lede vir die puik organisasie van hierdie wonderlike dag!