Die welbekende weskus TV en vermaaklikheid persoonlikheid Andries Vermeulen het lede van die publiek ten bate van die Kanoneiland NG Kerk op 1 Augustus 2015 in die Spanspekstore van Karsten Boerdery kom vermaak. Upington Tafelronde 79 het weens hul ekstensiewe ondervinding in die gebied die bedryf van die kroeg vir die aand losgeslaan en met welslae hul van die taak gekwyt.

Die ondervinding van van die “ouer” lede van die tafel het gou deurgeskemer toe van die “jonger” lede toegelaat is om in die beperkte bedieningsspasie hulle staal te wys. Eersgenoemde lede het meer ‘n “backseat” ingeneem en gesorg dat dinge van daar af georganiseer word. Die publiek het heelhartig die kerk ondersteun en by die tyd dat die veiling gehou is, het selfs lede van hierdie Tafel vurig deelgeneem daaraan. Verskeie pragstukke is aangeskaf en van die minder gewilde ware op die veiling is ook nie oorgesien nie en het lede van Upington Tafelronde 79 gewys dat selfs hierdie stukke ‘n huis kon vind.

Die aand was ‘n welkome inkomste aangesien dit nie ‘n gereelde projek op ons kalender is nie en meeste van die fondse is weer geskenk aan projekte wat deur die NG Kerk Kanoneiland hanteer word.

Ons bedank elke lid vir hul onbaatsugtige bydrae vir die aand.