Saterdag 31 Augustus 2019 – Dit woel al van vroegoggend by Prieska 161 se klubhuis. Die vure brand en die reuk van sosaties hang in die lug. Dit is weer tyd vir ons jaarlikse 4×4 dag en die dag begin by ons klubhuis waar die inskrywings plaasvind en die manne en vroue ook sommer iets vir die maag kan geniet. Daar was 19 voertuie ingeskryf vir die dag waarvan ‘n groot getal van Douglas gekom het.
Omstreeks 09:00 het die voertuie begin afbeweeg na die bos waar daar 4 hindernisse en ‘n “time trial” gewag het vir die deelnemers. Dit is al die 11de jaar wat Prieska 161 hierdie dag aanbied so alles verloop seep glad en middag ete het sommer vinnig aangebreek. Die toeskouers en deelnemers was bederf met die lekkerste sosaties, wors en hamburgers wat voorberei was deur die tafelaars en hul vrouens. Die “bar on wheels” het ook gesorg dat die kele nie te droog raak nie.
Na middag ete het almal vertrek na die 2de laatse hindernis en op hierdie stadium het die manne wat die punte gegee het maar ‘n moeilike taak op hande gehad aangesien die meeste van die voertuie nog geen foute gemaak het nie so almal was redelik kop aan kop wat punte betref. Alhoewel die koel temperatuur die oggend die baan bietjie vergemaklik het was die gees onder die deelnemers goed en ons kon nie vir ‘n beter dag gevra het nie. Die laaste hindernis van die dag was die beroemde langduin en dis gewoonlike hier waar die beoordelaars die kaf van die koring skei. Alhoewel daar ‘n paar voertuie gesukkel het was daar ook ‘n hele paar wat die duin baas geraak het. Die kompetisie gedeelte van die dag was verby en almal is na Prieska Golfklub vir die prysuitdeling.
Alhoewel hierdie dag glad nie gaan oor wen en verloor nie is dit altyd lekker om die deelnemers te kan beloon met ‘n prys. Sonder ons borge sou ons egter nooit so dag suksesvol kan aanbied nie daarom wil Roundtable Prieska 161 vir elke borg wat iets bydgra het vir hierdie dag BAIE DANKIE sê, sonder julle sou dit glad nie moontlik gewees het nie. Daar was sommer lekker pryse vir die deelnemers. Die algehele wenner vir die dag was Cilliers Fourie van Douglas, baie geluk. Daar was weer ‘n heerlike steakete en almal het lekker gekuier en die dag saam afgesluit.
Roundtable Prieska 161 wil net vir elke deelnemer en toeskouer bedank vir die ondersteuning. Sonder julle sal ons dit ook nie kan doen nie. Fondse wat ons insamel op hierdie tipe dae word geskenk aan liefdadigheid. So elkeen van julle maak ‘n groot verskil in iemand se lewe en dit word opreg waardeer. Volgende jaar maak ons weer so.